Tredhou & Ontwikkelingswebwerf, Institusionele Navorsing en Beplanning
Kiespaneel

Vroeë-Steunopname

 
Een van die meganismes wat deur die Tredhou-eenheid ontwerp is om onder andere waarde toe te voeg tot die vroeë assessering van nuwelingstudente is die Vroeë-steunopname (VSO). Die doel daarvan is om vroegtydig aan eerstejaarstudente hulpaanbiedings te maak. 
 
‘n Internet-gedrewe vraelys van 22 items is in Maart 2007 ontwikkel en op die studenteportaal geplaas.  Enige eerstejaarstudent wat van mening is dat hy/sy hulp benodig, kan dit (vrywillig) rekenaarmatig voltooi en instuur  Daar bestaan sowel ‘n Afrikaanse as Engelse weergawe van die vraelys en studente besluit self watter een hulle wil voltooi (dis waar vir al ons persepsie-gedrewe vraelyste).
 
Studente wat die vraelys voltooi en instuur, ontvang direk daarna ‘n webbladsy met geïndividualiseerde hulpaanbiedings ten opsigte van elkeen van die vrae/aspekte wat die betrokke student aangedui het as iets waarmee hulle probleme ondervind.  In elke hulpaanbieding word daar gespesifiseer waar die student hulp kan kry, wie hulle moet gaan spreek, die e-posadres van ‘n persoon wat hulle sal kan help, asook die telefoonnommer van ‘n kontakpersoon. 
 
Die VSO se hulpaanbiedings sluit spesifiek geen elektroniese bronne in nie aangesien ondervinding aangedui het dat studente wat hierdie vraelys voltooi in die nood is en dringend fisies hulp soek (mense om te help).  Hulpaanbiedings in van die Tredhou-Eenheid se ander vraelyste stel wel ryklik verwysings na onder andere webwerwe, videos, multimedia aanbiedings, e-boeke en audio-boeke tot deelnemers se beskikking.
 
Ongeveer 400 studente voltooi die vraelys jaarliks.  Alhoewel die impak nie direk gemeet kan word nie, glo ons dat die vraelys ook al ‘n bydrae gemaak het tot die sukses van ons eerstejaars.  Die vraelys word tans herverpak.  2014 se weergawe sal binnekort hier beskikbaar wees.