Intellektuele eiendom van die Universiteit Stellenbosch, 2015
LAPS (Leefplekke)
Die Leefplek Akademiese Prestasie Stelsel (LAPS) is gedurende die laaste paar maande van 2010 in samewerking met die Sentrum vir Studentegemeenskappe (SSG) deur die Tredhou-Eenheid ontwikkel, aan die begin van 2011 geloods en is reeds deur ‘n ministeriële komitee aanbeveel as "Best Practice"!
Die LAPS is ‘n omvangryke stelsel wat bestuurders van leefplekke toerus om die voorgraadse akademiese prestasie van studente in hulle omgewings te moniteer via elke omgewing se eie webwerf. Inwonende en besoekende hoofde van koshuise en privaatwyke gebruik die stelsel reeds intensief sedert Februarie 2011, dit word as basis gebruik vir die toekenning van leefplekomgewings wat die beste akademies presteer en word twee maal jaarliks opdateer - aan die begin van die jaar om ‘n oorsig te gee van die vorige 5 jaar se prestasies en na die eerste semester, sodat dit gebruik kan word as bestuursinstrument om byvoorbeeld huidige studente aan te moedig om as groep beter te presteer.
Voorgraadse akademiese prestasie van eerstejaars, nie-finalejaars, finalejaars en alle voorgraadse studente gesamentlik word aan die hand van 30 prestasie-indikatore per koshuis, privaatwyk en ResEd-kluster ontleed per ras, geslag, huistaal en fakulteit. Leefplekomgewings word ook per prestasie-indikator in rangorde van goed na swak gerangskik. Elkeen van die 52 verskillende leefplekomgewing in die stelsel het sy eie webwerf.
Op die hoofwebwerf is opsommende statistiek ook beskikbaar en word met behulp van grafiese voorstellings insiggewende vergelykings getref. Die Sentrum vir Studentegemeenskappe is die hoofgebruiker van die hoofwebwerf, terwyl die inwonende hoofde, besoekende hoofde en ResEd-koordineerders die belangrikste gebruikers van die individuele webwerwe is.
Die jongste weergawe van die LAPS-webwerf is hieronder. Gebruik jou "browser" se "Back" knoppie om telkens na die vorige kiespaneel/skerm terug te beweeg. Om die LAPS-webwerf in 'n aparte venster te bestudeer, kliek hier.