Voertuigpoel

 


  1. Voertuie van die US Voertuigpoel mag net gebruik word vir goedgekeurde ritte deur personeel en studente van die Universiteit van Stellenbosch, asook gemagtigde, amptelike besoekers aan die Universiteit. Geen persoon mag hierdie voertuie in sy/haar privaathoedanigheid gebruik nie.

  2. Voertuie moet op 'n versigtige en verantwoordelike wyse, binne die reëls en voorskrifte wat deur wetgewing neergelê word, bestuur en andersins gebruik word. Bestuurders wat landswette oortree is persoonlik aanspreeklik vir boetes wat hulle opgelê word.

  3. Bestuurders van voertuie moet toesien dat die voertuie na gebruik in die voertuigpark geparkeer word. Wanneer 'n voertuig na-ure terugbesorg word, moet die voertuig steeds in die voertuigpark geparkeer word. Slegs in uitsonderlike gevalle mag 'n voertuig buite die Universiteit se voertuigpark oornag, met dien verstande dat die afdeling Risiko- en Beskermingsdienste toestemming moet verleen indien die Voertuigpoel se amptenare nie meer beskikbaar is nie. Waar sodanige toestemming wel verleen word, word dit verleen op die uitdruklike voorwaarde dat die voertuig in 'n toesluitmotorhuis, of ander beveiligde struktuur toegesluit word.

  4. Die toesluit van voertuie en die sluit van die veiligheidslot op die rathefboom is verpligtend wanneer die voertuig verlaat word. In sekere omstandighede is die gebruik van 'n stuurwielslot ook verpligtend.

  5. Rook in Voertuigpoelvoertuie en die Voertuigpark is verbode en geen troeteldiere mag in Voertuigpoelvoertuie vervoer word nie.

  6. Die bestuurder van die voertuig moet oor 'n geldige rybewys, wat minstens een jaar oud is, beskik en dit op aanvraag kan toon.

  7. Die bestuurder van 'n voertuig moet die ritkaartjie van die voertuig volledig voltooi.

  8. Die bestuurder moet seker maak dat die voertuig oor 'n domkrag, moersleutel, noodwiel, petrolkaart (in die sleutelhouer) en instruksies vir Optrede by 'n Ongeluk (in die paneelkissie) beskik, voordat die voertuig gebruik word.

  9. Die Bestuurder moet seker maak dat die voertuig genoeg brandstof het vir die reis. Wanneer brandstof aangevul word moet die brandstoftenk gevul word en met die voertuig se eie petrolkaart betaal word. Betalingsbewys moet saam met ritkaartjie en sleutel terugbesorg word.

  10. Die brandstoftenk van 'n voertuig moet minstens halfvol wees wanneer die voertuig by die Voertuigpoel terug besorg word.

  11. 'n Voertuig se eie petrolkaart mag nie by 'n tolhek of parkeerpark vir betaling aangebied word nie.

  12. Die voertuie moet sover moontlik skoon en netjies gehou en terugbesorg word.

  13. Besprekingstye moet streng nagekom word en enige kansellasies moet 24 uur voor aanvang gedoen word.

  14. Alle skade wat aan 'n voertuig tydens verhuring plaasvind, moet binne 12 (twaalf) uur nadat dit gebeur het aan die Voertuigpoel gerapporteer word.

  15. Die gebruiker (Afd/DeptVereniging/Huiskomitee) is aanspreeklik vir die skade aan voertuie opgedoen tydens verhuring tot 'n maksimum van R2500 synde die versekeringsbybetaling en die toepaslike kostepunt van die gebruiker sal met sodanige bedrag gedebiteer word.

  16. By versuim om gehoor te gee aan die bovermelde reëls kan die onderstaande addisionele heffing(-s) van die gebruiker (Afdeling/Departement/Vereniging/Huiskomitee) verhaal word: Deur die sleutel van die voertuig te aanvaar, gee die gebruiker ook hiermee uitdruklik toestemming dat die toepaslike heffing van sy of haar salaris, studentegelderekening of kostepunt, na gelang van die geval, op aanvraag verhaal kan word.

      16.1   Die volle herstelkoste ten opsigte van skade wat voortspruit uit die ongemagtigde, kwaadwillige, of opsetlike optrede van die bestuurder.

      16.2   Die volle herstelkoste in die geval waar skade aan 'n voertuig nie binne 12 uur aan die Voertuigpoel gerapporteer word nie asook in die geval waar 'n voertuig gesteel word en sodanige voertuig nie toegesluit is nie soos voorgeskryf in paragraaf 3 en 4 hierbo.

      16.3   Wanneer 'n voertuig, sonder toestemming, meer as 30 minute laat terug besorg word............ R80,00 (tagtig rand)

      16.4   Wanneer 'n voertuig met minder as 'n halwe tenk brandstof terug besorg word............ R50,00 (vyftig rand)

      16.5   Wanneer 'n bespreekte voertuig, wat nie gebruik gaan word nie, nie binne 24 uur voor aanvang gekanselleer word nie.............................. R40,00 (veertig rand)

      16.6 Wanneer die binnekant van 'n voertuig vuil en/of onnet gelaat word.......... R40,00 (veertig rand)

      16.7 Wanneer die voertuig se deure en / of rathefboomslot ongesluit gelaat is…........ R100.00 (honderd rand)