Die doel van die Graduandi Akademiese Prestasie Stelsel (GAPS) is om aan akademiese bestuurders 'n stelsel te gee wat hulle in staat stel om vir 'n spesifieke jaar die getal en persentasie graduandi te bepaal wat hulle graadprogramme in die minimumtyd, minimumtyd plus een jaar tot minimumtyd plus vier jaar suksesvol voltooi het. Die GAPS se ontledings word vir die groep as geheel gedoen, asook per ras, geslag en huistaal. Op voorgraadse vlak word die ontledings ook vir verskillende matriekprestasievlakke gedoen. Die laaste 5 jaar se data word vertoon, en die ontledings is gebaseer op die laaste 9 kohorte vir voorgraads en die laaste 10 kohorte vir nagraads. Slegs graduandi wat uit hierdie kohorte kom, is dus ingesluit in die resultate.
Baie belangrik: Dit beteken maw ook dat statistiek vir graduandi wat langer (of korter) as die minimumtydperk neem om te gradueer, gegrond is slegs op hulle rekords (maw getal registrasies) in die rapporteringstydperk (laaste 9 of 10 jaar). Dit beteken dus dat indien vir iemand aangedui word dat hy of sy in die minimumtydperk (gestel 3 jaar) plus 2 jaar suksesvol was, hy of sy in die rapporteringstydperk van 9 of 10 jaar 5 registrasies gehad het. Dit is moontlik dat hy of sy voor die rapporteringstydperk ook 'n jaar of twee studeer het, maar in die meeste gevalle is die statistiek vir ten minste 2011-2013 baie naby aan 100% korrek. Die tradisionele kohortanalises waarin eerstejaarkohorte gevolg word, skakel die probleem uit, maar gee natuurlik ook 'n ander perspektief op studentesukses.
Die GAPS is beskikbaar vir voorgraadse sowel as honneurs-, magister- en doktorale programme. Op voorgraadse vlak word 6 groot programme eers ontleed, daarna word die statistiek van 188 verskillende programme, asook kombinasies van programme, per fakulteit deurgegee, en laastens word drie-, vier-, vyf- en sesjarige programme se graduandi-statistiek vir die universiteit as geheel opgesom. Dieselfde patroon word vir honneurs-, magister- en doktorale programme gevolg: Eers word die graduandi-statistiek van individuele programme en kombinasies van programme per fakulteit gerapporteer voordat opsommende statistiek vir die universiteit as 'n geheel gelys word.
Kliek op die vanpaste skakel hieronder om die GAPS van u keuse te verken.
Die statistiek wat binne die GAPS rapporteer word, is op 12 Maart 2014 vanaf die hoofraam onttrek.
Die GAPS is vir die eerste keer in November 2011 beskikbaar gestel en sal in die toekoms jaarliks, nadat die Maart-gradeplegtighede se resultate op die hoofraam gelaai en gefinaliseer is, opgedateer word (waarskynlik middel / einde April).