Ou
Lückhoff-skoolgebou nou ’n baken van versoening, hoop en heling
(16-10-2007) (het oorspronklik verskyn op www.sun.ac.za)
‘n Baken van versoening, hoop en heling. Dit was die boodskap by
’n spesiale funksie by die Universiteit Stellenbosch (US) Maandagmiddag
waarin die Ou Lückhoff-skoolgebou in Banhoekweg in Stellenbosch hertoegewy
is aan sy oorspronklike eienaars - die mense van Die Vlakte.
Met hierdie simboliese teruggee deur prof Russel Botman,
Rektor van die Universiteit Stellenbosch, betree die skool ’n ‘nuwe
era van toewyding aan opheffing en diensbaarheid aan die breë Stellenbosse
gemeenskap’.
In sy verklaring het prof Botman verwys na sy toespraak
tydens sy inhuldigingsplegtigheid vroeër vanjaar en gesê dat
die Universiteit Stellenbosch ’n Pedagogie van Hoop nastreef en
wil uitleef. “En dikwels vra mense: wat is hierdie Pedagogie van
Hoop. Is dit ’n mooi, maar ydel droom of is dit iets wat jy op tasbare
manier kan uitstal en sê: só lyk ’n Pedagogie van Hoop?
Hierdie geleentheid vandag is ’n versinnebeelding van ’n Pedagogie
van Hoop.”
Hy het ook verwys na die onreg van die verlede, veral
wat betref die skoolgebou en hoe dit weggeneem is van die mense van Die
Vlakte wat rondom die skool gewoon het. “Weer wil ek sê dat
geen apologie sal hierdie pyn kan stil of daarvoor vergoed nie. Maar hierdie
skoolgebou en dit waarvoor dit staan het met ’n magnetiese krag
mense na mekaar toe aangetrek en ’n katalisator geword van versoening
en hoop. Ek kan vandag met reg sê hierdie skoolgebou staan vir ’n
idee: die idee van versoening, heling en ‘n baken van hoop vir die
toekoms,” het prof Botman gesê.
In ’n tyd waarin rasseverhoudinge van tyd tot tyd
nog dikwels gestrem en gespanne is, het prof Botman gesê, “…is
Lückhoff ’n bewys dat mense (swart, wit en bruin) vandag die
gedeelde verlede van ons dorp en land kan erken, en tog doelbewus saam
kan besluit om tesame die toekoms in te gaan. Vandag is ons hier om hierdie
gebou weer toe te wy tot diens vir die gemeenskap van Stellenbosch, ongeag
van ras of kleur. Ons wil hier in Stellenbosch, waar die politieke stelsel
van apartheid sy beslag gekry het, ’n baken van hoop stel wat die
lig sal versprei dat alle mense gelyk is en versoend in vrede met mekaar
kan lewe. Ons is hier om te sê dat die gruwelike wetgewing wat veroorsaak
het dat mense ontwortel is, nie die laaste woord sal wees nie, maar dat
hoop op ’n nie-rassige, multikulturele samelewing lewendig is en
dat die gees van Lückhoff en die Vlakte sal voortleef. So is Lückhoff
dan ’n baken van hoop vir vandag en môre.”
Pastoor Godfrey Martin van die Lückhoff Gespreksforum
het in sy amptelike respons op prof Botman se verklaring gesê dat
die Groepsgebiedewet wat hartseer, pyn en lyding meegebring het, een van
die hoekstene van die Apartheidstelsel was. “Deur hierdie afskuwelike
wetgewing het die toepassers hiervan mense uitmekaar gedryf,” het
hy gesê.
“Ons was nog altyd vasbeslote dat ons eiendom en
erfenis aan ons teruggegee word. Daar was ook ’n gewilligheid om
te vergeet en deurentyd te werk vir hoop, versoening, vrede en heling
in ons gemeenskap.”
Hy het ook gesê dat die gebaar van die Universiteit
om die Ou Lückhoff Skoolgebou terug te gee as ’n baken van
hoop, ‘n teken van groot hoop vir transformasie van Stellenbosch
is. “Dit dien as salf vir diep-gesetelde wonde en pyn, wat ons glo,
met die verloop van tyd gesond sal word.”
In haar toespraak by die geleentheid, het die Uitvoerende
Burgemeester van Stellenbosch, Raadsheer me Lauretta Maree gesê
dat teen die einde van Julie 2007 het die Universiteit Stellenbosch en
die Stellenbosch Munisipaliteit ’n Memorandum van Verstandhouding
onderteken waarin die partye onderneem om saam te werk aan ’n hele
aantal inisiatiewe wat hopelik sal lei tot ’n beter lewe vir al
die gemeenskappe van Stellenbosch. “In kort het ons saamgestem dat
baie kan en gedoen moet word om Stellenbosch te ‘her-ontwerp’.
Ons kan egter nie Stellenbosch ‘her-ontwerp’ as ons nie dit
konfronteer wat in die verlede gebeur het nie. Vandag is een van daardie
geleenthede waar ons reflekteer op die verlede, heel gereeld met diepe
hartseer. Ons weet egter dat ons nie dit kan verander wat in die verlede
gebeur het nie – maar ons kan help om ’n ander toekoms te
vorm.”
Vandag huisves Lückhoff die Afdeling Gemeenskapsinteraksie
van die US, die Matie Gemeenskapsdiens en ’n hele paar nie-regeringsorganisasies
soos Stellemploy, die Stellenbosch Vigsaksie (@heart), ABBA, Stellenbosch
Early Education Development (SEED) Trust en die Babin voorskool. Die plan
is om uiteindelik ’n verskeidenheid organisasies te huisves wat
in ’n reeks gemeenskapsbehoeftes voorsien, en wat kan aansluit by
die kapasiteit en navorsing- en onderrigbehoeftes wat binne die universiteit
is.
Die Ou Lückhoff Skool was ’n belangrike baken
in die geskiedenis van veral die bruin gemeenskap wat destyds die blok
omgrens deur Victoria- en Birdstraat, Banhoekweg en Joubertstraat hul
tuiste genoem het - die sogenaamde Vlakte. Die skool moes met die koms
van die Groepsgebiedewet ontruim word omdat die area tot ’n wit
woongebied verklaar is. Die gebou het gelukkig sloping vrygespring.
Leerders van die skool - een van die bekendste skole vir
bruin mense van daardie tyd - sluit in prominente Suid-Afrikaners soos
die top internasionale en nasionale krieketspeler, Omar Henry; die destydse
SA Kampioen in Vrouetennis, Yvette Pieterse; die Wes-Kaapse Minister van
Landbou, Kobus Dowry; en die voormalige Algemene Bestuurder: Korporatiewe
Sake by Media 24 en Suid-Afrikaanse Ambassadeur in Denemarke, mnr Conrad
Sidego.
Volgens mnr John Abels, ’n oudleerder lid van die
Lückhoff Gespreksforum, was Lückhoff Skool die eerste Afrikaanse
sekondêre skool vir bruinmense in die Boland en omliggende plattelandse
gebiede. Daar het selfs leerders van so ver as Namibië gekom om dié
skool by te woon. “Die geskiedenis wat opgebou is, is deur ’n
verskuiwing van die mense uitgevee. Daar was vir lank ‘n gevoel
van hartseer en verwyt. Ons ouers het hopeloos gevoel omdat hulle niks
omtrent die Groepsgebiedewet kon doen nie,” het mnr Abels gesê.
Die skool was eers in besit van die Metodistekerk nadat
dit in 1969 ontruim is. Die Kerk het later die eiendom aan die Kaaplandse
Onderwys Departement vir R36 000 verkoop en later het die US die eiendom
deur middel van ‘n uitruilooreenkoms met die Onderwysdepartement
– die US het prima eiendom in Bellville hiervoor verruil –
in besit geneem.
Die skool is vernoem na Eerwaarde Paul Daniel Lückhoff,
’n sendeling wat onder die slawe in Stellenbosch vanaf 1829 gewerk
het. Toe die skool in 1935 sy deure oopmaak, was daar 376 leerlinge en
16 volwassenes wat die dagskool bygewoon het.
Prof
Botman se toespraak.
Raadsheer
Maree se toespraak.
Pastoor
Martin se toespraak.
|